Monsieur Schalk

April 1, 2014

“Monsieur Schalk se sprokie ná nek hom kortwiek”

By Stephen Nell

Hy moes al ’n slag uittree en ná die Kings se Superrugby-relegasie het sy loopbaan in ’n cul-de-sac beland. Maar nou, op “net 30”, lê Schalk Ferreira se beste rugbyjare dalk nog voor.

’N Meer gepaste rugbyterm as “medical joker” kon daar sweerlik nie vir Schalk Ferreira gewees het nie toe hy laat Augustus verlede jaar sy tasse vir Frank­ryk pak.

Toulouse was desperaat op soek na ’n loskopstut nadat Vasil Kakovin ’n ernstige kniebesering opgedoen het en is toegelaat om ’n speler van buite in te bring.

Ferreira, wie se loopbaan ’n doodloopstraat bereik het ná die Southern Kings se relegasie uit die Superrugby-reeks, het einde Augustus deur sy agente die oproep gekry.

Die plan was aanvanklik net vir hom om tot Junie in die suide van Frankryk te bly, maar ’n hele klompie skrums, duikslae en breekslae later is monsieur Ferreira tot 2017 gekontrakteer.

Dít alles nadat hy einde 2009 met ’n ernstige nekbesering uitgetree het voordat hy sy loopbaan in 2012 weer by die Westelike Provinsie hervat het.

“Met my gaan dit baie goed,” het hy vandeesweek uit Toulouse laat weet.

“Die speelstyl hier is nie só gestruktureerd soos by die Kings of die Stormers nie. As jy jou deur die loop van die spel op senter bevind, móét jy maar daardie rol vervul.

“Toulouse is daarop ingestel om die bal in kontak uit te gee. Hulle hou van hoërisiko-rugby. Ek het al ’n paar keer baie lekker bresse geslaan.”

Ferreira en Gurthrö Steenkamp dra om die beurt Toulouse se nr. 1-trui.

Dis onwaarskynlik dat Ferreira soos Steenkamp die Groen-en-Goud sal dra, maar Frankryk se blou is nie buite die kwessie nie as hy kan voortbou op wat hy al bereik het.

“Ek bly baie lief vir Suid-Afrika, maar as ek nie ’n Springbok kan word nie, sal ek beslis graag vir Frankryk wil speel,” het Ferreira gesê.

“Stutte bereik wasdom wanneer hulle ouer word. Hopelik sal ek ná drie jaar hier ’n aanspraakmaker wees.

“Jou voorrye hou lank in die Franse liga. Gurthrö is 32 en Carl Hayman staan op 34 nog sterk. Ek het in Februarie net 30 geword.”

Dis ’n groot droom gegewe dat die verwagting was dat hy ná sy aanvanklike uittrede in rugby se vergetelheid sou verdwyn. Van hom word daar in 2010 en 2011 se Suid-Afrikaanse Rugbyjaarboeke geen melding gemaak nie.

“Ek moet myself steeds knyp om dit te glo.

“Die spesialis het vir my gesê dat ek ’n hoër beseringsrisiko het, maar dat die nekoperasies baie suksesvol was.

“Die nuwe skrumreëls bevoordeel my ook. Daar is steeds impak, maar dis nie meer so groot nie.”

Ferreira beskou homself as die begunstigde van ’n goeie skrum­een­heid eerder as dat hy sy eie beuel wil blaas.

“Ek is in die voordelige posisie dat Yoann Maestri dikwels agter my skrum. Die ondersteuning in die skrums is baie goed. Ons voorspeler-afrigter, William Servat, het ’n baie goeie skrumstelsel gevestig.”

Ferreira se troef was egter nog altyd sy werkverrigting en dit maak van hom ’n besonder waardevolle speler. “Dis my handelsmerk.

“Dit laat jou bo ander voorrye uitstaan. Daar is vir my gesê dat hulle uit my werkverrigting kan sien hoeveel passie ek vir die span het.”

Schalk-Ferreira

View More In This Category

UNION Sports Magazine is proudly brought to you by Union Sports Group

All content copyright UNION Sports Mag 2016

Design & Development by
ANDDWEB